top of page
White Plants

Die avontuur van vertaling: Fiksie en fantasie.


Vertaling is ’n verrykende dog uitdagende werk. Of dit nou ’n

maatskappynuusbrief is, ’n nuusberig, ’n akademiese handboek, of ’n roman is - elke genre het sy eie vertalingsuitdagings en -slaggate.


Natuurlik is daar webtuistes soos Google Translate, en baie mense gebruik dit om basiese boodskappe met redelike sukses oor taalgrense heen te kommunikeer. Daar is wel egter ’n kans vir


kommunikasiegapings, wat duidelik in gevalle na vore kom waar die ontvanger van die Google Translate-boodskap jou verward aanstaar omdat hy nie die grieks wat jy pas van jou slimfoon se skerm af onverskillig uitgeblaker het, verstaan nie, maar dan uit ordentlikheid net sy kop knik en glimlag (erken dit - ons almal het dit al gedoen!). En so stap jy trots weg, dinkende dat jy fantasties met die vreemdeling kommunikeer het deur jou nuwe Pixel Buds, terwyl die boodskap op die ou end eintlik verlore geraak het!

Die gebruik van masjien- of rekenaarvertaling vir die doeleindes van kort, informele boodskappe, is nie verkeerd nie, maar ek sou dit glad nie aanbeveel vir kommunikasie in enige vorm van besigheid nie. As ’n vertaler het ek al op verskeie gevalle afgekom waar Google Translate in tekste gebruik en aan my gestuur is deur kliënte, waar ek gedink het, “huh?” terwyl ek probeer uitpluis wat die oorspronklike boodskap moes wees. My oplossing was om die nonsens-sinsnede te kopieer en in Google Translate terug te plak, wat dit sodoende terugvertaal het na die oorspronklike taal. Alhoewel dit ’n verstaanbare vertaling gelewer het, was dit nie die presiese bewoording van die oorspronklike taal, oftewel brontaal soos vertalers daarvan praat nie, siende dat die taalstruktuur nie van moedertaalgehalte was nie. ’n Gewilde YouTube vlogger, Malinda Kathleen Reese, illustreer juis dié en ander skreeusnaakse slaggate deur van Google Translate gebruik te maak om gewilde kontemporêre liedjies in ander tale in te vertaal en dit dan daarvandaan weer terug te vertaal na Engels, waarna sy dan daardie lirieke sing! Hier is een voorbeeld wat jou sal laat rondrol van die lag:

Wanneer dit by professionele vertaling kom, is die eksklusiewe gebruik van en steun op vertaalhulpmiddels soos dié buite die kwessie – geen professionele vertaler wat sy sout werd is sal dit ooit oorweeg om slegs op rekenaarvertaalgereedskap staat te maak nie. Vertaling is ’n veeleisende proses wat baie oorwegings behels, waarvan baie buite die bestek van die vaardighede van rekenaars val, en wat (moontlik) so sal bly, ten minste tot voor die volkome verskyning van kunsmatige intelligensie (kyk uit vir ons blog oor Groot Data - die leer van masjiene en kunsmatige intelligensie - en hoe dit in die bemarkingsektor gebruik word).

Die mees ooglopende oorweging tydens vertaling, en die enigste waarin rekenaarvertaling tot verskillende grade behulpsaam kan wees (*vertaler-sug van erkenning*), is die vlak waar individuele woorde direk vertaal word met ander ooreenstemmende individuele woorde. Hierdie word een-tot-een-vertaling genoem, en dit behels die vertaling van een woord met ’n ander woord wat dieselfde of ’n soortgelyke betekenis het.

Die tweede vlak om te oorweeg, en reeds ’n area wat buite ’n rekenaar se vaardigheidsvlak lê, behels gevalle waar daar nie ’n woord bestaan wat as vertaling vir die oorspronklike woord kan dien nie, maar eerder net ’n konsep. Byvoorbeeld, neem ’n hipotetiese groep mense wat in ’n land woon wat baie naby aan die ewenaar lê en miskien hulle eie taal ontwikkel het, en wat nog nooit ’n sneeuvlokkie in hulle lewens sien val het nie (want dit sal nooit daar sneeu nie) - hulle sal tien teen een nie ’n woord vir die konsep van sneeu hê nie, omdat hulle nog nooit so ’n verskynsel beleef en moes etiketteer het nie.

Die derde vlak om te oorweeg is die gebruik van woorde wat dieselfde gespel word, maar wat in verskillende kontekste gebruik word met verskillende betekenisse. Hierdie woorde is homonieme, en is in amper alle tale ’n verskynsel. Hulle is uniek in elke taal, en is hoogs afhanklik van konteks. Dié woorde is gewoonlik ’n groot uitdaging om te vertaal, en kan maklik verkeerd vertaal word indien die spreker of vertaler nie ’n moedertaalspreker van die taal is nie (of as dit deur ’n masjien/rekenaar vertaal word). Neem selfs twee Germaanse tale (hierdie tale het ’n “gedeelde herkoms” vanuit die Indo-Europese tak van die taalboom) soos Engels en Afrikaans as voorbeeld: In Engels bestaan die woord lay. Dit kan gebruik word in Lay the table of The chickens lay eggs. In die Afrikaanse vertaling is daar duidelik nie een woord vir beide kontekste nie. So jy sal sê Dek die tafel en Die hoenders eiers.

Die vierde vlak van oorweging is die implisiete betekenis, of die “lees tussen die lyne”. Dit kan wees dat die skrywer iets sê soos Dis ’n lieflike dag, terwyl dit sarkasties bedoel word aangesien dit eintlik buite ’n mislike dag is. In ’n doeltaal kan sarkasme dalk in hierdie geval heeltemal anders uitgedruk word. Afhangende van die taal kan dit wees dat ’n metafoor dalk eerder toepaslik is, of ’n uitdrukking, of dit word eerder direk gesê - sommige tale het nie die linguistieke of kulturele verskynsel van sarkasme nie; dalk is sarkastiese uitings glad nie smaakvol in sekere kontekste nie.

Die vyfde vlak om te oorweeg is die verskynsel van metafore, vergelykings en gesegdes. Hierdie is frases en uitdrukkings wat in spesifieke gevalle gebruik word en wat gewoonlik figuurlik van aard is, en aanvaarde vertalings vir ekwivalente betekenis moet eie wees aan die taal waarin jy vertaal, en kan nie bloot letterlik vertaal word nie. Enige vertaler wat nie hiervan bewus is nie, se boodskap/vertaling sal as tweedehands deur moedertaalsprekers geag word.

Nou volg die pret gedeelte. Die laaste vlak om te oorweeg kom grotendeels in romans voor. Hierdie sal die “ekstra” dinge wees soos fiktiewe plekname of karaktername wat spesifieke betekenisse omsluit wat dalk kan bydra tot die karakterisering of beskrywing van die omgewing. Hierdie gevalle kan baie kompleks raak, en die vertaler moet gewoonlik eers heelwat navorsing doen om die presiese betekenis agter die oorspronklike naam te ontdek, en dan nog meer navorsing doen om ’n gepaste ekwivalent te vind (wat nie altyd moontlik is nie, en dis wanneer ’n nuwe term of naam geskep moet word). Baie byvoegsels tot ’n taal se woordeskat kom uit fiksie – daar is beweer dat op sy tyd deur sy toneelstukke en ander prosavorme, William Shakespeare talle nuwe woorde tot die Engelse taal bygevoeg het wat opgeneem is in alledaagse gebruik - meer as in al die ander voorafgaande tydperke van Engels se ontwikkeling. Die woord accommodation is maar een voorbeeld van die woorde wat William Shakespeare in Engels geskep het - hoe gereeld gebruik ons dit nie vandag nie!

Nou dat ons die basiese tegniese konsepte waarmee vertalers hulle bemoei, gedek het, kan ons aanbeweeg na die lekker deel van hoekom ek hierdie blog wou begin.

Daar blyk ’n tendens te wees onder Afrikaanssprekende mense om fantasie en wetenskapsfiksie in Afrikaans te wil lees. Hierdie is ’n ongelooflike geleentheid vir Afrikaans om as taal te groei en te ontwikkel. Maar daar is heelparty struikelblokke wat vertalers van fantasie, en as uitbreiding, skrywers en aspirantskrywers van hierdie genre, in die gesig staar.

Wizard VS sorcerer VS philosopher

Vat een vinnige voorbeeld (ek gaan deeglik na baie voorbeelde kyk gedurende hierdie blog-reeks): Harry Potter and the Philosopher’s Stone. Net die titel alleen skep sy eie vertaalprobleme. Vertaal jy dit as Harry Potter en die Filosoof se Steen? In Afrikaans het die term Filosoof net mooi niks met enigiets magies te doen nie, en sal definitief nie enigsins na die 665 jaar oue Flamel in die storie verwys nie.

So dan neem ons die Amerikaanse weergawe, Harry Potter and the Sorcerer’s Stone. Alhoewel hierdie nader staan aan die term towenaar wat in die finale vertaling gebruik is, verwys die term towenaar eerder na ’n wizard, nie ’n sorcerer nie. So in Engels kan ons onderskei tussen sorcerer en wizard - byvoorbeeld in baie van die Merlin-Morgana sages, waar Merlin as die “goeie” wizard uitgebeeld word en Morgana as die “bose” sorceress. In Afrikaans word towenaar egter in beide kontekste gebruik. Kan jy begin agterkom hoeveel verskeie probleme vertalers in die gesig moet staar?

In hierdie blog-reeks gaan ons fokus op die vertaling van romans in die fantasiegenre vanaf Engels na Afrikaans. Ons gaan begin met die Harry Potter-reeks, gevolg deur ’n oorsig van die vertaalde The Hobbit. Ons gaan ook moontlike vertalings vir name van fantasiekreature in ander fantasieboeke ondersoek waarvoor daar nog geen name in Afrikaans bestaan nie. Lesers word genooi om deel te vorm van die gesprek oor vertaalmoontlikhede, en idees word hartlik verwelkom.

Lekker lees!

Ann-Lize.

Pictures used courtesy of:

https://www.deviantart.com/adam-brown/art/Wizard-212516039

http://www.businessinsider.com/9-of-historys-greatest-philosophers-reveal-the-secret-to-happiness-2017-1?IR=T

http://www.dreams.metroeve.com/sorcerer/#.Wzir6dIzaM8

https://www.pinterest.ph/pin/541065342702684175/

https://www.babbel.com/en/magazine/15-best-google-translate-fails/


Featured Posts
Recent Posts
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square
bottom of page